Ontstaan van die ACK Christchurch

Die eerste Afrikaanse erediens in Christchurch was ‘n Afrikaanse Kersdiens wat gehou is in Christchurch op Sondag, 21 Desember 2003 by die Dovedale Reformed Church, en die prediker was Ds Jan-Lion Cachet, Reformed Church Wellington NZ

Vir ‘n ruk was daar ‘n groepie Suid-Afrikaners wat gereeld bymekaar gekom het vir ‘n biduur. Hulle het gevra dat die Here ‘n bediening moet vestig onder die Suid-Afrikaners in Christchurch.

In Januarie 2006 verhuis die Bekkers na Christchurch en die gebedsgroep in Christchurch nader hom om dienste in Afrikaans waar te neem.

Die eerste van hierdie Afrikaanse dienste vind plaas op Sondag die 19de Februarie 2006 om 5nm. Hierdie was net dienste wat 2 keer per maand plaas gevind het en daar was toe nog geen sprake om ‘n gemeente te vestig nie. Daar ontstaan ook ‘n behoefte aan dienste in Afrikaans verder suid en Jan en Arna Joubert neem die leiding om dit te organiseer en die eerste diens vind plaas in Hinds op Sondag die 30ste Julie 2006.

Vanaf Januarie 2007 vind daar elke Sondag dienste in Afrikaans plaas. Die behoeftes groei en op Sondag die 17de Junie 2007 word ‘n stigtings- en feesdiens gehou waartydens Ds Tienie en Monica Bekker as die leraarspaar van die Christchuch gemeente deur Ds Johan Hendricks bevestig word.

Vandaar het die Here nog net geseën en is ons baie dankbaar vir die wonderlike werk wat God hier in Christchurch begin het en self in stand hou! Soli Deo Gloria!