Meer oor die leraarspaar

Dr Tienie se Getuienis

Die Here het ‘n besondere pad met Dr Tienie en sy vrou Monica en hul seun Tinus gestap, en die getuienis wat hulle ter ere aan die Here lewer, raak almal aan oor die Grootheid van God se Plan. In 1984 was Tienie na Angola waar hy sy Weermag-diensplig gedoen het. Sy lewe het in ‘n sekonde se tyd verander toe hy fisies gesterf het na hy in ‘n ammunisie-ontploffing op die grens. Hy was nie gereed om te sterf nie en die Here se genade het hom uit die dood teruggebring. Hy het egter ‘n lang herstelproses gehad omdat hy ‘n deel van die regterkant van sy liggaam verloor het, en verlam was. Hy het tot bekering gekom in die hospitaal en die ervaring het hom baie naby aan die Here gebring. Deur Goddelike genesing en die wonderlike werk van die personeel van 1 Militêre Hospitaal is Tienie genees. Sy stem is herstel, sy gehoor is herstel, hy kon weer begin loop en die Here het ook sy pyn weggeneem en hom innerlik genees. Die Here het hulle oor die wereld geneem om hul getuienis uit te dra. ‘n Mens kom weereens net onder die besef dat ons ‘n lewende God aanbid as mens hierdie getuienis hoor.

Herderspaar

Die Bekkers in Nieu-Seeland

Ds Tienie en Monica Bekker en hulle seun Tinus het op uitnodiging in Oktober 1998 na Blenheim gekom om ‘n groepie Suid-Afrikaners daar te ondersteun en dienste in Afrikaans waar te neem. Aangesien die groepie klein was het Ds Tienie by ‘n Engelse gemeente daar betrokke geraak en immigreer hulle in Januarie 1999 na Nieu-Seeland

In 2000 begin ‘n groepie Suid-Afrikaners in Waikenae (Noord van Wellington) by mekaar kom. Ds. Tienie bedien Sondag oggende in Blenheim en Sondag middae die groep in Waikenae. Dit gaan voort tot hy later ‘n pos by ‘n Alkohol en Dwelm sentrum in Blenheim aanvaar om te help met hulle lewensonderhoud. Hulp verlening aan die wat stukkend is, is een van sy passies. Hy is ‘n geregistreerde berader en voltooi in 2002 ook sy nagraadse studies by Otago Universiteit in alkohol en dwelms.

Aan die einde van 2004 verhuis die Bekkers na Paraparaumu om daar by ‘n Christelike sentrum vir verslaafdes te gaan werk. In die tyd is hulle ook deeltyds betrokke by die Afrikaanse gemeente Kapiti-Mana onder Dr Jan Leon-Cachet.

Ds. Tienie Bekker ontvang ‘n uitnodiging om ‘n Christelike beradingsentrum in Christchurch te vestig as deel van ‘n Engelse gemeente se bediening in Shirley. In Januarie 2006 verhuis die Bekkers na Christchurch en ‘n Afrikaanse gebedsgroep in Christchurch nader hom om dienste in Afrikaans waar te neem. Op Sondag die 17de Junie 2007 word ‘n stigtings- en feesdiens gehou waartydens Ds Tienie en Monica Bekker as die leraarspaar van die Christchuch gemeente deur Ds Johan Hendricks bevestig word.

Dr Tienie voltooi sy doktorale tesis in September 2008 onder leiding van Prof. Dr. Louis M. De Bruin met die tema: “Pastoral Counselling and support of those affected by the trauma of immigration and other forms of separation.”

Lees Dr Tienie se tesis, wat handel oor die ondersteuning van mense wat deur immigrasie en ander vorme van skeiding geraak is. (PDF, 280 KB)