Geloofsverklaring
Afrikaanse Christen Kerk van Nieu-Seeland
(Afrikaans Christian Church of New Zealand)
Christchurch Gemeente
1.0 Die Kerk
Die Afrikaanse Christen Kerk van Nieu-Seeland (ACK) is outonoom en funksioneer onafhanklik van enige ander kerk.
Die missie van die Afrikaanse Christen Kerk van Nieu-Seeland
Om as God se kinders 'n geestelike tuiste vir Afrikaanssprekendes te skep waar ons dienend omgee vir alle mense en so uitvoering gee aan die opdrag van Christus om dissipels van alle mense te maak.
1.1 Die Kerk se belydenisgrondslag
Die Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die Woord van God is altyd die hoogste en finale gesag. (2 Timotheus 3:16 & 17).
1.2 Lidmaatskap
’n Lidmaat is ’n persoon wat die belydenisgrondslag van die Kerk onderskryf, asook die kinders van lidmate van die Kerk.
1.2.1 ’n Belydende lidmaat
is ’n lidmaat wat deur die plaaslike kerkraad erken word as iemand wat:
deur ’n leraar met water gedoop is in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees
en in die openbaar sy/haar geloof in die Drie-enige God bely
en versoek het om as deel van die gemeente sy/haar dissipelskap uit te leef.
1.3 Kerkregering
Die kerkregering is gegrond op die presbiteriaal-sinodale kerkregeringstelsel.
1.4 Verhoudings met ander kerke
Op interkerklike vlak streef die Kerk na gesonde verhoudings met en wedersydse respek vir ander kerke en kerklike instansies wat God drie-enig vereer, sodat die eenheid in die Kerk van Jesus Christus bevorder kan word.
2.0 Die Christchurch Gemeente
2.1 Christus is die Hoof van Sy Kerk
God die Vader is die hoof van Jesus en Jesus Christus is en bly die Hoof van die gemeente en Sy Kerk. Almal in die gemeente is in die eerste plek verantwoordelik teenoor Christus en is afhanklik van Sy leiding deur die Heilige Gees. (1 Kor 11:3, Efes 1:22, 4:15, Kol 1:18).
2.2 Die missie van die Christchurch Gemeente
Ons is ‘n Bybel gefundeerde Gemeente, wat God drie-enig in Gees en Waarheid wil verheerlik deur Hom lief te hê en te gehoorsaam en Christus na te volg. Ons gee dienend om vir mense en wil so uitvoering gee aan die opdrag van Christus om dissipels van alle mense te maak, en hulle te leer om alles te onderhou wat Jesus ons in Sy Woord beveel. (2Tim 3:16, Joh 4:23, 14:23, Matt 28:19)
2.2.1 Die Gemeente
Die Christchurch gemeente is volledig kerk en outonoom en word so deur die meerdere vergadering erken en ondersryf deur die konstitusie van die ACK.
3.0 Ampte
3.1 Lewende Lidmate
Lidmate word aangemoedig om aktief betrokke te wees in bedieninge volgens hulle gawes en bedieninge soos die Heilige Gees dit gee. (1 Kor 12 en Rom 12).
3.2 Besondere Ampte
Die kerk erken die drie besondere ampte waaraan Christus die dienswerk van sy Kerk toevertrou het, naamlik diè van lerende ouderling (leraar), regerende ouderling en diaken. Hierdie drie ampte is gelykwaardig, maar word op grond van opdrag en werk onderskei. Niemand kan in een van hierdie ampte dien tensy hy op 'n wettige wyse verkies of benoem en bevestig is nie. Plaaslike kerkrade het die bevoegdheid om die ampte aan te wend en te benoem in ooreenstemming met plaaslike en praktiese omstandighede en behoeftes en kan ook addisionele bestuurs- en bedieningsposte daarstel volgens behoefte. (1 Timotheus 3:1-13, 1 Petrus 5:1-4, Titus 1:5-11, Handelinge 6:1-6, 1 Timotheus 2:12, 1 Korinthiers 11:3-5). Enige Ampsdraer en/of Leier funksioneer vanuit ’n diensknegsgestalte en is bereid om “voete te was“. (Lukas 22:25-27, Joh 13:5-15).
3.2.1 Leraar
Die leraar is ‘n bedienaar van die Woord en die sakramente
3.2.1.1 Opdragte
Verkondiging van die Woord en diens van die gebede. Om dit effektief te kan doen moet hy kwaliteit tyd met God en Sy Woord spandeer en dit moet altyd ’n prioriteit in sy bediening wees.
Lei van die erediens en die bediening van die sakramente.
Onderrig of toesig oor die onderrig van finale jaar katkisante.
Pastorale sorg van die gemeente.
Toesig saam met die ouderlinge oor die gemeente.
Tree as voorsitter van die kerkraad op sou die kerkraad dit so verkies.
3.2.2 Ouderling
'n Ouderling is aktief by die geestelike versorging van die gemeente betrokke en bevorder dit. Hy saam met mede-ouderlinge neem leiding en hou toesig oor die suiwerheid van die leer en die lewenswandel van die leraar(s) en lidmate van die gemeente. Die vereistes en opdragte vir ’n Ouderling vind ons in 1 Timotheus 3:1-7, 1 Petrus 5:1-4 en in Titus 1:5-11.
3.2.3 Diaken
‘n Diaken verrig barmhartigheids- en diakonale dienste. Dit sluit in sekere pligte tydens die erediens en nagmaal maar is veral gerig op die vertroosting, ondersteuning en die opheffing van almal wat op enige wyse barmhartigheids-diens nodig het. Die vereistes en opdragte vir Diakens vind ons in 1 Timotheus 3:8-13 en Handelinge 6:1-6.
4.0 Kerkraad
4.1 Samestelling
‘n Kerkraad bestaan uit die ouderlinge van die betrokke gemeente asook die betrokke leraar.
4.1.1 Funksies van die kerkraad
Die kerkraad
hou toesig oor en bevorder aktief die geestelike versorging van lidmate in die gemeente;
sien toe dat eredienste gereeld plaasvind en dat die sakramente gereeld bedien word;
sorg vir die instandhouding van die kategese;
verseker die behoorlike bestuur van die gemeente;
bestuur die finansies en bates van die gemeente in oorleg met die finansiële komitee en die tesourier;
hanteer alle huishoudelike sake van die gemeente;
bepaal die diensvoorwaardes en vergoeding van die ampsdraers;
kan aanbevelings maak ten opsigte van die wysiging van die kerkorde;
reël en keur gaspredikers;
delegeer sodanige bevoegdhede as wat hy goeddunk aan die dagbestuur.
4.1.2 Dagbestuur van die kerkraad
Die samestelling van die dagbestuur word deur die kerkraad bepaal. Die dagbestuur koöpteer, wanneer nodig, ander lidmate van die gemeente by besprekings waar hulle waardevolle insette kan lewer.
Tussen vergaderings van die kerkraad word dringende sake na die dagbestuur verwys. Die dagbestuur kan ook gedelegeerde sake en detailreëlings op 'n deurlopende basis hanteer.
Die notule van ‘n dagbestuursvergadering word op die eers-volgende kerkraadsvergadering voorgelê vir goedkeuring.
4.2 Ouderling- en Diakenvergaderings
Die kerkraad kan volgens plaaslike omstandighede reël vir ouderling- en/of diakenvergaderings.
4.3 Taakgroepe
Die kerkraad kan van tyd tot tyd volgens goeddunke taakgroepe aanwys en aan sulke taakgroepe bevoegdhede delegeer. Lidmate van die kerk kan op so 'n komitee benoem word. Ten minste een ouderling sal deel wees van so ’n taakgroep.
4.4 Bedienings Groepe
Bedieninge of groepe kan gevorm word, (met die toestemming van die Kerkraad) bv. Jeug, Sang, Gebed ens. Die kerkraad, in oorleg met die groep wys ’n leier aan. Hierdie leiers vergader saam met die dagbestuur van die kerkraad vir leiding en koordinering.
4.5 Finansies
4.5.1 Die kerkraad wys ‘n finansiële komitee aan. Die finansiële komitee sorg dat die finansies van die gemeente in ’n ordelike en op ‘n verantwoordelike wyse hanteer word. Dit word gedoen deur goeie boekhouding, verslae aan die Kerkraad asook jaarlikse geouditeerde state.
4.5.2 Dit is ’n voorreg om te kan bydra tot die uitbreiding van God se koningkryk op aarde. God het ’n blymoedige gewer lief (2 Kor 9:6 & 7), en ’n goeie riglyn in die verband is ’n tiende (Maleagi 3:10). Daar word nie gekollekteer nie, nie eens in die erediens nie, ‘n skatkis is by die deur beskikbaar vir hierdie doel.
4.5.3 Lidmate se offergawes bly anoniem en vir IRD doeleindes sal lidmate ’n nommer ontvang. Die persoonlike nommer word dan op ’n koevertjie geskryf en die offergawes daarin geplaas. Indien lidmate ’n aftrekorder wil teken word die nommer in die verwysing geplaas sodat dit op die gemeente se bankstate verskyn. Aan die einde van die finansiele jaar sal lidmate dan ’n kwitansie vir belasting doeleindes ontvang.
5.0 Eredienste
Die erediens is 'n ontmoeting tussen God drie-enig en Sy gemeente wat bymekaar kom op 'n spesifieke plek en tyd soos deur die kerkraad bepaal. Eredienste vind ten minste een keer per Sondag plaas. Dit gebeur op God se inisiatief, waartydens Hy hom aan die gemeente openbaar en die gemeente daarop antwoord. Dit is belangrik dat die onderlinge byeenkomste gereeld bygewoon word. (Hebreers 10:25).
5.1 Woordverkondiging
Die Woordverkondiging moet altyd;
Gods-vererend,
Skrif getrou en
Van toepassing vir die huidige wees.
5.2 Deelname en lei van eredienste
Alle lidmate word opgeroep tot deelname aan die erediens.
Die leraar of ’n persoon aangewys deur die kerkraad is verantwoordelik om die erediens te lei.
Die kerkraad wys 'n ander leraar of ‘n persoon aan om 'n erediens te lei indien die leraar nie beskikbaar is nie.
5.3 Liturgie
Die liturgiese volgorde en inhoud van die erediens word deur die leraar in oorleg met die kerkraad bepaal, onder die leiding van die Heilige Gees.
5.4 Sang
5.4.1 Die leraar in oorleg met kerkraad en die leier van die Musiek bediening, bepaal watter musiek, instrumente, liedere en liedbundels tydens eredienste en ander geleenthede gebruik word. Dit moet alles Gods-vererend en Skrifgetrou wees. (Psalm 150)
5.4.2 Lidmate moet vry voel om in die lofprysing en aanbidding hulleself uit te druk op ’n wyse waarmee hulle gemaklik is, wat God verheerlik en tot stigting van die gemeente is.
6.0 Sakramente
6.1 Inleidend
Die bediening van die sakramente geskied deur ‘n leraar waar ten minste een kerkraadslid teenwoordig is en Woordverkondiging ook plaasvind.
Die prosedure by die bediening van en toelating tot die Heilige Nagmaal en Doop word deur die kerkraad bepaal.
6.2 Doop
Die Kerk erken die Doop en Nagmaal as sakramente deur Christus ingestel.
Die simbool van water by die Heilige Doop (Mat. 28:18-20) is 'n teken van die afwassing van sonde en van die nuwe lewe in Christus en inlywing in die liggaam van Christus.
Die doop word deur die leraar bedien met water in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
Die Kerk aanvaar beide die verbondsdoop en die bekeringsdoop as gestaltes van die sakrament.
6.3 Nagmaal
Die simbole van brood en wyn by die Heilige Nagmaal is tekens van Christus se liggaam wat gebreek is en bloed wat vergiet is en herinner aan God se voorsienigheid en liefde (1 Korinthiers 11:23-26).
Die Nagmaal word bedien met brood en wyn/druiwesap as simbole.
7.0 Onderrig
7.1 Geloofsonderrig
7.1.1 Kinders van gelowige ouers en buitekerklikes wat begeer om belydenis van geloof af te lê, ontvang geloofsonderrig.
7.1.2 Die ouderlinge is verantwoordelik om toe te sien dat geloofsonderrig in die gemeente plaasvind en stel onderwysers in oorleg met die Kategese hoof aan.
7.1.3 Dit is die verantwoordelikheid van die ouers om, in die eerste plek, tuis verantwoordelik te neem vir hulle kinders se geloofsonderrig. Hulle moet ook toesien dat hulle kinders die geloofsonderrig van die gemeente bywoon. (Deut 6:6-9)
7.2 Kategese Hoof
'n Hoof vir die Kategese skool word deur die kerkraad aangestel en hy doen op versoek aan die kerkraad verslag oor die werksaamhede van die geloofsonderrig.
8.0 Opsig en Tug
Kerklike opsig en tug is noodsaaklik om
die eer van God te handhaaf;
die sondaar met God, die Kerk en sy naaste te versoen;
aanstoot uit die gemeente te verwyder.
8.1 Riglyne
Die kerklike opsig en tug moet altyd 'n geestelike karakter dra. Daarom moet die opsieners by die uitoefening daarvan die toon van die burgerlike regspleging vermy. Hulle mag hulself nooit as regters beskou nie, maar moet as vaderlike opsieners met diepe ootmoed voor God en met tere liefde en belangstelling die oortreders probeer terugbring van hul dwaalweë., Dit moet geskied sonder aansien van die persoon en volgens die riglyne in Mattheus 18:15-17.
9.0 Belangrike Geestelike Aspekte in die Gemeente
9.1 Dae van Vas en Gebed
Indien die behoefte bestaan kan die Kerkraad die gemeente uitnooi om deel te neem aan dae van Vas en Gebed om onsself as ’n gemeente opnuut voor God te verootmoedig en Sy aangesig te soek rakende sake van belang. (Markus 2:18-20).
9.2 Goddelike Genesing
Deur die versoeningswerk van Christus (deur Sy wonde, Jes 53:4-5) maak God genesing vir mense moontlik. God kan daarom op ’n soewereine wyse ons ook na liggaam, siel en gees genees. Hy kan dit deur middele en/of daarsonder doen. Gebed, geloof, handoplegging en die salwing met olie word in die verband in die Woord na verwys. (Matt 8:17, Mark 6:13, 16:18, Jak 5:14 –15, 1 Pet 2:24).
9.3 Uitdra van die evangelie
Ons as gemeente erken ons verantwoordelikheid ten opsigte van die uitdra van die evangelie op alle terreine en na alle volke, tale en nasies. Ons verbind onsself om aktief daarby betrokke te wees. (Matt 28:19, Hand 1:8).
9.4 Heiligmaking
Die Woord leer ons dat sonder Heiligmaking ons die Here nie sal sien nie. Heiligmaking is ’n voortgaande genadewerk wat tydens wedergeboorte begin en voortduur tot die einde van ons lewe. Ons moet daarom voortdurend na heiligheid streef in alle aspekte van ons lewe. In die oorspronklike taal (Grieks) beteken die woord “Heilig“ om afgesonder te wees vir God met ’n spesifieke doel/taak. (Heb 12:14, 1 Thess 5:23, Fil 3:14, 1 Pet 1:16).
9.5 Ons in die Gemeente
Erken ons eenheid ondanks ons verskeidenheid (1 Kor 12:12-27)
Leef in vrede met God en met mekaar (2 Kor 13:11)
Vermy strydvrae en twis (2 Tim 2:23)
Spreek nie kwaad nie (1 Petrus 2:1)
Dra mekaar se laste (Galasiers 6:2)
Het mekaar lief (1 Johannes 4:12)
Bid vir mekaar (Jakobus 5:16)